Wat is BlankBottle en waar kom die naam vandaan?
BlankBottle is my wyne wat ek verkoop. Die wyn in my bottels is ’n geheim vir die koper. My etikette verklap niks van die kultivar of smaak van die wyn nie. My klante moet eers die wyn proe en geniet voordat hulle op my webblad kan lees wat presies in die bottel is.
Jy is ’n entrepreneur, wynmaker, kreatiewe gees, branderplankryer en gesinsman. Hoe het jy tot hier gekom met BlankBottle?
Op skool het ek my nie veel aan die boeke gesteur nie en ek het nie universiteitstoelating gekry nie. Ek het vir ’n paar jaar ’n swerwersbestaan gevoer en dit het vir my baie goed uitgewerk, want dit het gelei tot by my passie in die lewe – wynmaak.
Ek is op 25 wel toegelaat tot die universiteit (danksy my ouderdom) en het ’n BSc-graad in wingerd- en wynkunde voltooi. Ek moes self my studie finansier en dit was hier waar BlankBottle vir die eerste keer sy kop uitgesteek het.
Aan wie het jy jou eerste bottels wyn verkoop en hoe het jou produk van daar af gegroei?
Ek het in my studentejare afslagwyn by groot kelders gekoop en dit teen ’n wins aan my vriende en familie verkoop.
Ek het in ’n stadium so baie klante gehad dat ek tot 230 bottels op ’n slag in my studentekarretjie vervoer het.
Daarna het ek in my finale jaar, as deel van my praktiese blok, my eie wynkelder in ’n vriend se motorhuis oopgemaak en vir ’n paar eksklusiewe klante privaat wyne gemaak. Hierdie onderneming het vinnig gegroei.
Vandag, nege jaar later, produseer ek 30 000 bottels wyn per jaar en verkoop elke jaar uit.
Wat maak BlankBottle so uniek?
Omdat ek vir ’n nismark voorsien en ek min produseer, het ek die vryheid om my eie ding te doen.
Ek verkoop nie net wyn nie, ek verkoop die hele pakket. Ek kies my eie druiwe, maak self die wyn, botteleer die wyn self, ontwerp my eie etikette en bemark my produk self.
Tans maak ek wyne van 25 verskillende kultivars en elke jaar soek ek opnuut na die beste wingerde vir elke tipe kultivar. Ek ry tot 12 000 km ver per parsseisoen.
Ek herhaal nie noodwendig ’n wyn van seisoen tot seisoen nie. Daarby vertel elke etiket ’n unieke storie. Die spesiale etiket is deel van die produk wat ek verkoop.
Hoe versprei en bemark jy jou produk?
My wyne word nie kommersieel verkoop nie. Ek verkoop slegs deur my webblad of per e-pos en die bestellings word by klante afgelewer.
Ek het ’n nuusbrief waarin ek inligting gee oor nuwe wyne en wynproesessies. Ek bied ook private wynproesessies – dit is my beste vorm van bemarking. Klante het groot waardering vir persoonlike aandag.
Hoe hanteer jy die strawwe mededinging in die Suid-Afrikaanse wynbedryf?
As ek heeltyd kyk wat ander doen, verloor ek my uniekheid. As jy jouself is, kan niemand jou namaak nie. En as ander jou namaak, moet jy noodwendig kreatief wees en weer aan iets nuuts dink.
Wat is die geheim van jou sukses?
Ek lewe vir die avonture wat die lewe bied en ek hanteer my onderneming as ’n avontuur. Ek probeer dit op die prettigste manier moontlik bedryf. Ek het selfs al ’n aanlyn wynproesessie gehou.
Honderde klante het landwyd saam wyn geproe – wat ’n avontuur!
Wat was van jou grootste uitdagings tot dusver en wat het jy daaruit geleer?
As jy nie geld het nie, is dit baie moeilik om ’n onderneming te begin en te bedryf, maar dit bring ook die beste in jou na vore. Dit het my gedwing om planne te maak. Ek maak nou nog of ek nie geld het nie en dan maak ek slim planne.
Het jy raad vir voornemende entrepreneurs?
Almal dink dit is wonderlik om vir jouself te werk. Dit is, mits dit jou roeping is. Dit is ook belangrik om te onthou dat geen onderneming groot begin het nie. Jy moet nederig genoeg wees om R10 in R20 te verander.